21. EK IS AAN 'N MISDAAD SKULDIG BEVIND. KAN EK APPÈL AANTEKEN?
In strafsake kan appèl aangeteken word teen die skuldigbevinding, die vonnis, of beide. In die meeste gevalle, moet die persoon aansoek doen om verlof tot appèl in die hof wat hom skuldig bevind het. 'n Regter of landdros moet verlof tot appèl toestaan indien daar 'n moontlikheid bestaan dat 'n ander hof tot 'n ander bevinding kan kom.
Die Strafproseswet bepaal dat die aansoek binne 14 dae na afhandeling van die saak gebring moet word. Indien die verlof nie toegestaan is nie, kan die persoon 'n brief, wat bekend staan as 'n “petisie”, aan die Regter-President van die hof waarteen geappelleer word, stuur. Die petisie moet binne 21 dae vanaf die datum van afwysing van verlof tot appèl, geliasseer word. 'n Hof wat die verlof tot appèl of die petisie aanhoor, kan vir 'n goeie rede die nie-nakoming van tydsbeperkinge kondoneer.
'n Persoon het 'n outomatiese reg tot appèl in die volgende omstandighede:
Waar die persoon gevonnis is tot tronkstraf wat nie in geheel opgeskort is nie, en ten tyde van die misdryf:
(a) onder 16 jaar oud was;
(b) tussen 16 en 18 jaar oud was, nie regsverteenwoordiging gehad het nie en in 'n streekhof gevonnis is.
Waar 'n persoon tot lewenslange tronkstraf gevonnis is deur 'n streekhof.
