22. WATTER VERWERE KAN 'N BESKULDIGDE IN 'N STRAFSAAK OPPER?
Noodweer
Waar 'n persoon 'n slagoffer van 'n onregmatige aanval op hom of sy eiendom is, mag hy die aanval met geweld afweer. Enige beserings wat dan aan die aanvaller toegedien word, is nie onregmatig nie. Die verweer kan slegs slaag indien 'n hof bevind dat die handeling redelik in omstandighede was.
Vereistes:
- Die aanval moes reeds begin het, of dadelik dreigend wees:
- Die aanval moet onregmatig wees.
- Noodweer kan nie geopper word indien die aanval, byvoorbeeld wettige inhegtenisname was nie;
- 'n Persoon mag slegs lewe, liggaam, eiendom, persoonlike vryheid, menswaardigheid en seksuele integriteit beskerm;
- Die aksie moes nodig wees om die aanval af te weer;
- Die aksie moes op die aanvaller gemik wees;
- Die verdediging moes redelik in omstandighede wees. Dit sal waarskynlik onredelik wees om iemand wat jou hare trek, te skiet.
Noodtoestand
Hierdie verweer kan geopper word waar 'n persoon moet kies tussen 'n onreg verduur en die wet oortree. Dit word gereeld gebruik om dade te regverdig in toestande van nood. Daar sal waarskynlik op noodweer gesteun kan word teen 'n aanklag van bestuur bo die spoedgrens indien die beskuldigde 'n ander persoon na die hospitaal gehaas het.
Vereistes:
- Die noodtoestand moes reeds begin het, of dadelik dreigend wees:
- Slegs regs erkende belange mag beskerm word;
- Die beskuldigde moes nie self die noodtoestand geskep het nie;
- Die beskuldigde moes die noodtoestand afgeweer het op die manier wat die minste skade veroorsaak;
- Die handeling moes redelik in die omstandighede gewees het.
Daar kan nie meer skade aangerig word as wat die beskermde belang werd is nie.
Alibi
Die alibi verweer is eenvoudig 'n ontkenning van die bewering dat die beskuldigde die misdaad gepleeg het. Die verweer word bewerkstellig deur 'n getuie te roep wat bevestig dat die beskuldigde elders was en nie die misdaad kon pleeg nie.
Onmoontlikheid
Hierdie verweer is beskikbaar waar dit vir die beskuldigde onmoontlik was om te voldoen aan die vereistes wat die reg op hom geplaas het. Die verweer kan geopper word waar die beskuldigde nie sy belastingopgawe betyds kon indien nie omdat een van sy werknemers al sy finansiƫle rekords vernietig het.
Vereistes:
- Daar moet 'n positiewe verpligting op die beskuldigde geplaas wees;
- Dit moet onmoontlik wees om aan die vereistes te voldoen, nie slegs moeilik of bemoeiend nie;
- Die beskuldigde mag nie die oorsaak van onmoontlikheid wees nie.
Amptelike bevele:
Hierdie verweer kan slegs bestaan waar 'n ondergeskikte amptelike bevele van 'n gesaghebbende persoon uitvoer, soos in die weermag of polisie.
Vereistes:
- Die bevele moet van 'n persoon wat wettig in 'n gesagsposisie oor 'n ondergeskikte, wees;
- Die ondergeskikte moes verplig wees om die bevel te gehoorsaam. Daar moes nie meer gedoen wees as wat beveel is nie;
- Die verweer kan nie geopper word waar die bevel ooglopend onwettig was nie. 'n Soldaat of polisiebeampte kan, byvoorbeeld, nooit 'n bevel uitvoer om iemand te verkrag nie.
Toestemming
In sekere omstandighede kan 'n persoon toestem tot 'n handeling wat gewoonlik 'n misdaad sou wees. Die mees algemene toepassing is in gevalle van verkragting waar 'n man kan aanvoer dat daar toestemming tot geslagsgemeenskap was.
Vereistes:
- Die toestemming is deur die reg erken. 'n Bokser kan toestem dat sy opponerend hom aanrand, selfs totdat hy doodgaan. Dit is interessant om daarop te let dat 'n persoon nie in Suid-Afrika kan toestem dat 'n ander persoon hom 'n genadedood gee nie. Hierdie handeling kom neer op moord.
- Die toestemming moet vrywillig en ingelig wees;
- Die persoon moet in staat daartoe wees om toestemming te gee. 'n Persoon van onder 7 jaar of iemand wat verstandelik gestremd is, kan, byvoorbeeld, nie toestemming gee nie.
22. WATTER VERWERE KAN 'N BESKULDIGDE IN 'N STRAFSAAK OPPER?
De minimus non curat lex
Hierdie Latynse term beteken eenvoudig "die reg bemoei hom nie met beuselagtighede nie." Hierdie verweer is tipies slegs beskikbaar by minder ernstige misdade. 'n Hof het al, byvoorbeeld, 'n beskuldigde vrygespreek wie 'n waardelose stuk papier gesteel het.
Negotorium Gestio
Hierdie verweer is beskikbaar waar 'n persoon spontaan 'n handeling verrig met die doel om 'n ander persoon te bevoordeel, maar sonder daardie persoon se kennis of toestemming. Die verweer kan geopper word waar 'n persoon by sy buurman se huis inbreek om 'n vuur te gaan blus.
